Saturday, March 5, 2011

Finansiële beplanning vir die hedendaagse vrou

Michelle Human, Regsbemarkingspesialis

Is dit werklik moontlik vir die hedendaagse vrou om alles te hê? Vroue het vandag meer geleenthede, keuses en uitdagings as ooit vantevore. Dit is derhalwe nodig dat vroue ook beheer neem van hul finansiële beplanning om te verseker dat hulle daardeur hul eie lewens beheer, veral ingeval van ‘n lewensveranderende situasie.


Hier is ‘n paar dinge om te oorweeg wanneer jy jou finansiële vryheid bestuur. Kyk eerstens na jouself ‘n Vrou het ‘n finansiële plan nodig wat in haar eie behoeftes voorsien. As sy kinders het of daaraan dink om met ‘n gesin te begin, moet haar aftreeplan voorsiening maak vir ‘n onderbreking in haar loopbaan terwyl sy op kraamverlof is, selfs al sou dit net vir ‘n kort tydperk wees.

Indien ‘n dubbele inkomste vereis word om die gesin aan die gang te hou, sal ‘n dubbele inkomste ook met aftrede benodig word om die lewenstandaard te handhaaf. Finansiële beskerming in krisistye Volgens KANSA (Kankervereniging van Suid-Afrika) word 1 uit 29 vroue elke jaar met borskanker gediagnoseer. Die gevolge van so ‘n diagnose kan verpletterend wees – emosioneel sowel as finansieel. Deur te verseker dat jy dekking in plek het wat ingeval van so ‘n diagnose sal uitbetaal, sal jy ten minste ook die gemoedsrus hê dat jou finansiële welsyn in plek is. Omvattende dekking vir ernstige siekte sal verseker dat geld beskikbaar is om jou gesin en hul leefstyl te beskerm. Oorweeg die uitwerking wat hierdie soort siekte op jou lewenstyl sou kon hê:

Wie sou na jou kinders omsien? Sou jy ‘n au pair nodig hê om hulle by die skool en ander bedrywighede te gaan oplaai, om hulle met huiswerk te help en om vir aandete te sorg? Sou jy iemand nodig hê om na huishoudelike pligte om te sien of jou by behandelings- en doktersafsprake te besorg? Verseker dat jy alle ander bekommernisse kan uitskakel en daarop kan konsentreer om die beste beskikbare behandeling te kry.

In goeie en slegte tye…
Die laaste ding waaraan enige bruid wil dink, is die moontlikheid dat haar huwelik weens egskeiding of sterfte tot ‘n skielike einde sal kom. Deur te verseker dat jy die wetgewing wat op jou huwelik van toepassing is, verstaan, kan jy jouself in later jare pyn en hartseer spaar.

Die drie huweliksbedelings waarvoor in die huweliksgoedere wetgewing voorsiening gemaak word, is die volgende: Gemeenskap van goedere – die partye in die huwelik deel alle winste en verliese en word geag net een, onverdeelde boedel te hê. Alles word dus gelykop verdeel. Huweliksvoorwaardekontrak (HVK) – dit sluit outomaties die aanwasstelsel in en is ‘n gemeenskap van winste, maar nie ‘n gemeenskap van verliese nie, wat in werking tree as die huwelik beëindig sou word. Dit is waarskynlik die gewildste huweliksbedeling in hedendaagse tye. Bates wat voor die huwelik verkry is, kan uitgesluit word, maar enige bategroei wat gedurende die huwelik plaasvind, word gelykop verdeel wanneer die huwelik tot ‘n einde kom.

Huweliksvoorwaardekontrak met uitsluiting van aanwas – hier word die aanwasstelsel uitdruklik uitgesluit en het die partye totaal afsonderlike boedels. Dit is ‘n huweliksbedeling wat dikwels gebruik word wanneer partye reeds voor hul huwelik omvattende rykdom bekom het. 

Tyd weg van jou loopbaan
Wanneer ‘n vrou met ‘n gesin begin, sal sy dalk verkies om haar formele betrekking te verlaat sodat sy heeltyds kan ma wees, of minder ure werk met ‘n buigsame skedule. Hier is ‘n paar dinge om te oorweeg wanneer jy met ‘n gesin begin: Word jou bestaande aftreevoordele oorgedra na ‘n Voorsieningsfonds of Aftree-annuïteit om vir jou toekoms ‘n neseier te skep? Het jy nou toegang tot hierdie bedrag, en gebruik jy daarvan om jou koste laag te hou sodat jou besluit om tuis te bly, meer lewensvatbaar is? Laat die laer inkomste in die huishouding jou toe om voort te gaan met die een of ander aftreespaarpoging?

Finansiële vryheid vir jou aftreejare
Vroue leef in die algemeen sowat sewe jaar langer as mans. ‘n Vrou van 65 sal sowat 15% meer benodig as ‘n man van dieselfde ouderdom om lewenslank vir dieselfde pensioen voorsiening te maak, derhalwe moet vroue deeglike beplanning vir hul aftrede doen.

‘n Nalatenskap
Vroue onderskat heeltemal te dikwels die noodsaaklikheid van ‘n geldige testament as deel van ‘n omvattende finansiële plan. Dit behels meer as om eenvoudig al jou bates aan jou eggenoot of lewensmaat na te laat. ‘n Testament bied aan jou die geleentheid om vir jou kinders ‘n voog aan te stel ingeval albei ouers gelyktydig sou sterf. Miskien wil jy vir jou kinders voorsiening maak deur middel van ‘n testamentêre trust. Dit gee jou die geleentheid om die trustees te kies wat namens jou kinders die fondse sal bestuur en om sekere instruksies te gee aangaande die verspreiding van inkomste en kapitaal. Oorweeg die moontlikheid dat jou eggenoot weer sal trou of nog kinders sal hê. Sonder ‘n testament is daar geen waarborg dat jou kinders die nalatenskap sal ontvang wat jy vir hulle bestem het nie. Die proses om ‘n testament op te stel, gun jou ook die  geleentheid om die uitwerking van boedelbelasting, inkomstebelasting en ander koste te oorweeg wat maklik jou bestemde nalatenskap kan wegvreet. Lewensdekking is ‘n bekostigbare manier om te verseker dat kontant geredelik beskikbaar is wanneer jou afhanklikes dit meeste nodig het. Liberty Groep is „n gemagtigde Finansiële Diensverskaffer in terme van die Finansiële Advies- en Tussentydse Dienstewet van 2002 (“FATD”) (Lisensie no. 2409). Die inligting vervat in hierdie kommunikasie, aanhangsels inkluis, moet nie as advies beskou word in terme van die FATD-wet nie, aangesien die skrywer nòg „n aangestelde  verteenwoordiger van Liberty, nòg „n gelisensieerde diensteverskaffer is soos beskryf in die FATD. Raadpleeg asseblief u finansiële adviseur indien u advies van „n finansiële aard en/of tussentydse dienste verlang.

No comments:

Post a Comment